Mercury-Atlas 1

Mercury-Atlas 1 styg op.

Mercury-Atlas 1 (MA-1) was die eerste poging van Amerika om 'n Mercury-kapsule te lanseer as deel van die Mercury-program. Die vuurpyl is op 29 Julie 1960 te Kaap Canaveral, Florida gelanseer. Dit was 'n onbemande vlug en daar was ook geen lanseerontsnapstelsel aan die kapsule nie. Die Atlas LV-3B vuurpyl het strukturele faling ondergaan na 58 sekondes op 'n hoogte van slegs 9,1 km en 3,4 km vanaf die lanseerplatvorm. Alle telemetrieseine het skielik verdwyn soos die vuurpyl deur maksimum dinamiese druk beweeg het. Die dag was reënerig en bewolk en die vuurpyl was na 26 sekondes nie meer sigbaar nie. Dit was dus onmoontlik om te kon sien wat gebeur het.

Die doelwit was om 'n sub-orbitale vlug te onderneem en weer die atmosfeer binne te dring met die ruimtetuig. Die kapsule was toegerus met skeidingsvuurpyle maar slegs met fop-truvuurpyle. Daar was verskeie ander stelsels wat ook nie in die kapsule geïnstalleer is nie bv. die kajuitdrukstelsel en 'n stoel vir die ruimtevaarder.

Verskeie Mercury-ingenieurs het beswaar aangeteken teen voortsetting van die lansering na aanleiding van die weer, dit sou die sig belemmer. Sommige getuies beweer hulle het 'n ontploffing gehoor maar dit kon nie bevestig word nie. Die kapsule het aanhou inligting uitsaai, totdat dit die water getref het ongeveer 9 km vanaf die lanseerplatform. Die kapsule, Atlasvuurpyl en die vloeibare suurstof ventilasieklep is geberg vanaf die oseaanvloer. Die enjins was nie beskadig nie, behalwe die skade wat hulle gely het tydens impak met die water. Die ventilasieklep en 'n stukkie pyp wat nog aan hom geheg was het opmerkbare metaaluitputtingkrake gehad.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search